Chapter Text
Ek loop skuins agter Eckardt soos wat ons na die biblioteek stap. My hart voel of dit teen my ribbes wil uitbars en ek weet nie eens meer of dit die adrenalien is van iets wat so verkeerd is maar reg voel, of net hy self nie. Daardie selfvertroue wat hy uitstraal—iets wat ek nog nooit regtig kon wees nie, maak nie saak hoeveel maskers ek probeer dra nie.
Eckardt gryp my hand vir ’n fraksie van ’n sekonde om my uit die biblioteek te lei. Ek verstyf dadelik, maar volg hom tog. Vreemd, dink ek vlugtig, maar ek bêre dit weg. Ek moet fokus. Soos op die feit dat hy die kode na die netwerkkamer ken.
“Maar hoe het jy geweet?” vra ek verstom.
“Shoulder surfing,” sê hy met daardie bekende glinstering in sy oë. “Ek het gekyk toe daardie computer techie laas hier was. Nog ’n manier om passwords te kry. Jy moet net leer om behoorlik te kyk...”
Ek knik, maar eerlik—ek hoor hom halfpad. Want in my kop is ek al weer vasgevang in hom. In sy glimlag. Sy oë. Die manier hoe hy lyk wanneer hy daardie brein van hom gebruik en alles net… klik.
“Dit help as die outjie bietjie stadig tik...” sê hy verder, en dit ruk my terug na die werklikheid.
Ek volg hom in die netwerkkamer in.
Die deur val sag agter ons toe. Die geluid is klein—amper niks—maar dit voel soos iets wat toemaak. Soos ’n grens wat ek net oorgesteek het sonder om te weet ek doen dit.
Die kamer ruik anders as die res van die skool. Kouer. Skerper. Warm plastiek en stof op metaal. Rye rekenaars staan stil, maar nie regtig stil nie—daar’s ’n konstante gezoem wat ek eerder voel as hoor.
Ek bly vir ’n oomblik by die deur staan. Eckardt nie.
Hy beweeg dadelik vorentoe, asof hy presies weet waarheen hy gaan. Geen huiwering nie. Net daardie rustige selfvertroue wat my elke keer uit balans gooi.Ek volg hom. Ek kyk hoe sy skouers net-net ontspan, hoe sy hande sonder denke oor die oppervlaktes beweeg—’n ligte aanraking hier, ’n vinnige aanpassing daar. Soos iemand wat hier hoort.
My hart klop harder. Nie net oor wat ons doen nie. Oor hoe gemaklik hy daarin is.
“Kom,” sê hy sag, sonder om om te draai.Ek beweeg nader.
Te naby.
Ek besef dit eers toe ek die hitte van hom voel, selfs in die koue kamer. My skouer is amper teen syne. Ek kon terugstap. Ek doen nie.Hy buk vorentoe oor die rekenaar. Die skerm gooi blou lig oor sy gesig, en alles fokus op sy oë—daardie glinstering wat altyd daar is wanneer hy iets doen wat hy liefhet.
Ek sluk.
Ek kyk te lank.
Ek weet ek kyk te lank.
“Jy gaan nie veel leer as jy net staan en staar nie,” sê hy skielik, lig in sy stem.My wange brand dadelik warm.
“Ek kyk,” sê ek vinnig en beweeg nader, dwing my oë na die skerm. Maar selfs dan bly ek bewus van hom. Hoe naby hy is. Hoe sy arm amper myne raak elke keer as hy tik. Hoe sy stem laer klink hier.
“Hier,” sê hy en tik vinnig. “Jy moet verstaan hoe die stelsel dink. Dis nie net kode nie. Dis patrone. En—weet jy hoekom ons op ’n uitstappie na die netwerkkamer is, G-4rce?”
Ek knik, al is ek nie heeltemal seker nie.Ek probeer regtig fokus.Maar alles bly terugtrek na hom.Die manier hoe hy frons wanneer iets nie werk nie. Hoe sy lippe trek wanneer hy konsentreer.My asem haak liggies.Ek kyk vinnig weg en fokus op wat hy verduidelik—firewalls, netwerke, toegangspunte. Iewers begin iets sin maak. ’n Liggie gaan op in my kop.
“Ons kan sien wat aan die ander kant van die skool se firewall aangaan,” sê ek, half verbaas oor myself.
Eckardt se glimlag word breër.“En as jy eers weet waarna om te soek…” sê hy sagter, “…dan raak alles makliker.”
Ek glimlag effens.Nie oor die woorde nie.Oor hoe hy dit sê.
“Jy maak dit klink maklik,” mompel ek. Hy kyk op. Reguit na my.En vir ’n oomblik sê hy niks nie.Net daardie kyk weer. Die een wat ek nie kan uitpluis nie, maar ook nie kan ignoreer nie.
“Dis nie maklik nie,” sê hy uiteindelik. “Maar jy sal dit kry.”
Jy.
Nie “mense” nie.
Nie “enigiemand” nie.
Jy.
My bors trek styf.“Dink jy so?” vra ek sagter as wat ek bedoel het.
Sy oë bly op my. “Ek weet so.”
Die woorde sit swaar tussen ons. Te swaar vir net vriende wat saam hack.Ek kyk vinnig weg en fokus op sy vingers wat oor die keyboard beweeg, maar my kop is nie meer daar nie.Ek hoor net: Ek weet so.
Tyd raak vreemd. Minute—dalk meer—ek weet nie. En toe verskyn my skoolrekord op die skerm. Alles oor my, netjies en koud in swart letters. My wiskundepunt ook.Ek kyk vinnig weg.Ek wil nie dink aan my pa se stem nie.
“Hmmm,” sê Eckardt. “Ek wonder wat ons hier aan kan doen?”Iets in my verander skielik. ’n Wilde gedagte flits deur my kop.En voor ek dit kan keer, voel ek sy hand op my skouer en sy stem naby my oor.“White hat or Black hat?” En net so verdwyn daardie gedagte weer.
“Dis genoeg vir vandag,” sê hy uiteindelik.
Ek kyk op. My gesig voel warm. “Nou al?”Dit klink te gretig. Ek weet dit. Maar ek kan dit nie keer nie.
Hy lig ’n wenkbrou. “Jy kla?”
Ek skud my kop vinnig. “Miskien.”
Hy kyk my vir ’n oomblik langer as wat nodig is.En toe versag iets in sy gesig. “Ons sal weer kom,” sê hy.
Ons.
My bors trek styf.Ek knik stadig. “Ja… okay.”
Hy vee vinnig deur die log files. “Ek vee ons spore uit. Ons kan nie kanse vat met admin nie.”Ek hoor hom, maar ek luister nie regtig nie.
Ek dink.Aan alles wat gebeur het.Aan alles wat ek voel en nie kan benoem nie.
Ek weet ek is straight. Ek het ’n blerrie mooi girlfriend. Ek weet hoe dit behoort te wees.Maar elke keer saam met Eckardt voel dit asof iets in my bors nie meer volgens reëls werk nie.Butterflies. Warmte. Paniek.En iets erger. Iets soos… verlange. En na wat nogal ek ken die ou nou net al n paar maande.
Toe ons uit die kamer stap, voel die gang skielik te helder. Te hard. Die wêreld kom terug. Maar iets bly agter.Of dalk… bly iets by my.
Later, toe ek alleen is, probeer ek dit weer sin maak.Die kode. Die stelsel. Die risiko.Dis wat ek behoort te onthou.Maar dis nie wat bly nie.Wat bly, is die gevoel van sy hand vir daardie breukdeel van ’n sekonde.Die manier hoe hy gesê het:“Ek weet so.”En die gevaarlikste ding van alles,hoe maklik ek hom glo.
